Seuntjie (1) verdrink

Mc400-2rs

Vir sy ouma was hy haar ‘funny face’, vir sy juffrou haar klein terroris en vir Nikita Smith, haar enigste kind. Logan Smith (1) se klein lewe is in ’n oogwink weggeruk.
Op Dinsdag, 19 Januarie het Logan buite gespeel soos hy altyd doen.

“Hy was baie lief vir die natuur en veral vir honde en diere. Hy was altyd buite maar, ons het altyd geweet waar hy is,” het Smith vertel.
“Daardie dag het ek en Logan gaan stort, soos ons altyd gemaak het. Ons het omstreeks 18:00 by die huis gekom en hy was maar so in en uit die huis,” het mnr. Deon Didloff, Logan se pa die tragiese dag herroep.

“Ons het agtergekom dat Logan baie stil is en Nikita het my gevra waar hy is. Ek het vir haar gesê dat hy buite is en dat hy met die honde speel. Hy was seker nie eers vyf minute alleen buite nie, toe het ek gaan kyk. Ek het hom nie gekry waar hy gewoonlik speel nie en het sy lyfie in die gansdammetjie gesien dryf,” het Didloff verder vertel.

Mc400-1rs
Wyle Logan Smith (1).

“Ek het hom dadelik uitgehaal en Kardiopulmonêre Resussitasie (KPR) toegepas en hom probeer bykry. Ek het vir Nikita geroep om die kar te kry om hom hospitaal toe te vat. Aangesien ons in Tasbetpark bly, het dit gevoel of die ambulansdienste te lank sou neem, dit is hoekom ons hom self hospitaal toe gevat het. Ons het die hele tyd in die kar op pad hospitaal toe, KPR toegepas en hom steeds probeer bykry. Die mense op die pad was verskriklik bedagsaam, ek het my noodligte aan gehad en almal het padgegee,” het hy verder gesê.

“Ons het by die hospitaal gekom en die dokter het vir my gesê dat hy reeds dood was, voor ons hom ingebring het. Ons het dit nie besef op pad hospitaal toe nie,” was Smith se woorde.
“Ons het omstreeks 18:15 by die hospitaal stilgehou,” het Didloff gesê.

Didloff het verder vertel dat die plek waar hulle bly, sekuriteitskameras het en dat hulle nooit die gansdammetjie se hekkie gebruik nie.

Mc400-2rs
Logan Smith (1) saam met sy gunsteling beer.

“As ’n reël maak niemand ooit die hekkie oop nie. Ons gooi ook sommer vir die gansies kos oor die heining. Aangesien dit so laat was, het daar busse gestaan en een het ongelukkig voor die kamera gestaan wat op die dammetjie wys. So ons het net gesien hoe loop hy in daardie rigting, maar die res is ’n groot raaisel,” het Didloff gesê.

Smith het gesê dat haar sussie die hekkie gaan toemaak het, want toe hulle by die huis kom, het sy gesien dat die hekkie oop was.

“Op die kamera sien jy ook hoe loop my sussie om die hekkie te gaan toemaak, en net daarna is Logan daardie kant toe. Ons het hom gelos dat hy speel, hy was altyd buite, maar hy was altyd onder ons oë. Ons het altyd geweet waar hy is en wat hy doen. Dit was rofweg nie eers vyf minute wat ons nie geweet het waar hy is nie, en dis toe dat Deon hom gaan soek het,” was Smith se woorde.

Didloff het gesê dat niemand weet hoe daardie hekkie daardie aand oop was nie en wie dit oop gemaak het nie. Aangesien almal wat daar werk teen daardie tyd reeds huis toe is.

“As ons op die perseel rondloop dan was hy baie meer geïnteresseerd in die busse en trokke wat daar staan. Hy het nooit eers gemik vir die dammetjie nie. Hy het altyd verby dit gehardloop. Dit is ons grootste raaisel. Wie het die hekkie weer gaan oopmaak en hoekom het hy daar ingegaan?” het Smith gesê.

Alhoewel hulle hul bespiegelinge het, kan niks bewys word nie.
Hy sal veral by sy kleuterskool, Tweetyland, baie gemis word. Me. Esther van Vollenstee het staaltjies vertel en het sy persoonlikheid by die skool ook uitgebeeld.

Mc400-3rs
’n Herinnering wat voortleef.

“Hy was ’n unieke kind. Hy het sy eie manier gehad van dinge doen, maar hy het besondere mooi maniere gehad. Hy was verskriklik besig en was sy juffrou se terroris,” het Van Vollenstee tussen trane deur vertel.

Sy het ook bygevoeg dat hy baie behulpsaam was en dat hy beslis geweet het as hy iets verkeerd gedoen het. “Hy het so skelm uitdrukking op sy gesig gehad. So regte stoute glimlag. As jy gaan kyk, kan jy beslis iets verwag,” het sy glimlaggend bygevoeg.

“Logan se gunsteling speelmaat was Gizmo, ’n pitbul hond wat sy peetpa wat in Namibië bly, vir hom gegee het. Hierdie hond was sy alles,” het Smith gesê.

“Logie was baie lief vir swem. Ek het hom so twee weke terug gevat en hom probeer wys hoe om te swem. Hy het saam niemand anders geswem as saam met my nie,” het Didloff verder gesê.

Sy ouma het bygevoeg dat die tattoeërmerk op haar lyf, haar ‘eina’ was volgens Logan.

“Hy het ook vir my die miertjies gevang en hulle vir my kom wys,” het Smith haar herinneringe van Logan herroep.
“Dit was altyd vir hom ’n fees om te bad. Hy het jou sopnat gespat en gedink dis ’n baie groot grap,” het sy ook gesê.

Smith het met die wit-en-blou blokkieskombers om haar bene gesit. So elke nou en dan het ’n glans oor die kombers die atmosfeer laat verdik.

Hierdie was Logan se kombersie. Volgens Smith was die kombersie en ’n wollerige beertjie sy gunsteling.

“Hy en Gizmo het altyd met die beertjie gespeel. By sy ouma se huis het hy so groot beer gehad wat amper groter as hy was. Hy het altyd met dit gespeel as hy daar gekom het,” het sy gesê. “Hy het ook so klein vierwiel motorfiets gehad wat hy vir sy eerste Kersfees gekry het. As jy hom soek dan speel hy met dit.”

Baie dinge sal onthou word van Logan se kort lewe. Die winkeltrollies wat hy altyd self wou stoot, die eindelose melkskommels en ook hoe hy alles gedoen het wat jy doen.

Vir sy ma, pa, en familie, los hierdie jong lewe ’n baie groot leemte.
Hy is beskryf as ’n energieke klein mensie wat verskriklik baie lewens aangeraak het. Hy het almal laat glimlag en sy lewe sal voortleef in almal wie hom geken het, se harte.

Logan sou op 10 Februarie, sy tweede verjaarsdag gevier het.

“Ons wou vir hom ’n ‘Minions’ partytjie gehou het. Hy was mal oor die rolprent en het altyd die ‘Banana’ liedjie geluister,” het Smith ten slotte gesê.

Graag wil die familie net almal bedank wat hul tot dusver bygestaan en ondersteun het.
Logan word Woensdag, 27 Januarie vanuit die NG Kerk, Suid-gemeente (Trappieskerk) veras.

  AUTHOR
Melissa Claassen
JOURNALIST/PHOTOGRAPHER

Latest News

COMMENTS

getit_witbankcosmosgazettelooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
berig
Gebede vir Brian Recommended Story