Motorfietsongeluk laat baie vrae

CV231c

In doodse stilte word verklarings op die ongelukstoneel afgelê, terwyl trane oor me. Adele Nel se wange stroom.
Haar man, JP Nel (49) het ’n paar uur vantevore op Sondag, 31 Januarie sy lewe op die Broodsnyersplaas-pad verloor.
Sy is omstreeks 05:30 wakker gemaak deur ’n telefoonoproep om te sê haar man is langs dié pad gevind en dat daar ’n ongeluk was.

“Ek was verby geskok, alles binne my het koud geword. JP het my 04:00 nog gegroet voor hy op sy motorfiets werk toe is,” het me. Nel vertel.

Daar kan nie met sekerheid gesê word hoe laat die ongeluk gebeur het nie. Dit blyk egter dat mnr. Nel ’n geruime tyd in die gras langs die pad gelê het waar hy later deur insleepdienste gevind is, nadat ’n verbygaande motoris tekens van die ongeluk opgemerk het.
Dit is nie duidelik hoe die ongeluk gebeur het nie. Die polisie is besig met ’n ondersoek om te bepaal wat gebeur het.

CV231ars
Die ongelukstoneel op die Broodsnyersplaas-pad waar mnr. JP Nel (49) Sondag, 31 Januarie in ’n motorfietsongeluk omgekom het.

“Toe ek op die toneel aankom was dit reeds verby,” het me. Nel gesê.

Mnr. Nel het op Van Dyksdriftmyn gewerk en was woonagtig in Pretoria.

“Hy het nooit met sy motorfiets werk toe gery nie, maar weens skade deur ’n slaggat was sy motor buite werking en het hy geen ander alternatief gehad nie,” het me. Nel vertel.

CV231brs
Die motorfiets wrak van mnr. JP Nel wat verongeluk het op pad werk toe op 31 Januarie.

Die Nel-egpaar was vir 27 jaar getroud en het ’n tweeling, Tienie en Valerie.

“Hy was my alles ek het hom oneindig baie lief en mis hom so baie, dit is moeilik,” het me. Nel bygevoeg.

Mnr. Nel is beskryf as ’n terggees wat altyd grappies gemaak het en die vertrek dadelik kon ophelder.

“Hy het wraggies almal se siele altyd uitgetrek en dit is wat hom so ongelooflike mens, man en pa gemaak het,” het me. Nel saggies gesê.

CV231c
Wyle mnr. JP Nel op sy motorfiets.

“My pa was een van die mees opregste mense wat ek in my lewe teëgekom het. Hy was altyd gelukkig en reg om te help. Ons was sy lewe en hy ons s’n,” het mnr. Nel se dogter, Valerie gesê.

Mnr. Nel is Donderdag, 4 Februarie vanuit die Doxa Deo Noord Kampus Kerk in Pretoria ter ruste gelê.

Latest News

COMMENTS

getit_witbankcosmosgazettelooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Look before you leap (year)
Look before you leap (year)