Vrou voor haar huis oorval

Die histeriese gille van ’n vrou vroegaand het inwoners in Ben Fleur laat regop sit.
Die voorval het op Donderdag 13 April omstreeks 20:00 in Shillstraat plaasgevind.

’n Vrou het oor die SACCW (South African Community Crime Watch) se zello-kanaal geroep om hulp na sy haar buurvrou se hulpkreute gehoor het.

“Die gil van ’n vrou het my koud gelos, al wat ek hoor eggo het is, ‘help my! Help my, hulle wil my doodmaak!’ Toe ek buite kom het ek ’n weerlose en bebloede dame verward sien staan in die pad,” het die slagoffer se buurvrou gesê.

Phillip du Plessis van Legacy Ambulansdienste het gesê,

“die vrou het blykbaar van die werk af gekom en met haar aankoms by die huis het twee verdagtes haar ingewag.”

Sy het volgens Du Plessis minimale beserings opgedoen na die twee verdagtes haar hardhandig behandel het en met ’n mes gedreig het. Die booswigte het gevlug met van die vrou se besittings.

“Ek het dadelik hulp ontbied na Shillstraat en moet sê dat die reaksietyd ongelooflik vinnig was. Legacy was een van die eerste nooddienste wat opgedaag het. Hulle was uiters profesioneel met die slagoffer,” het ’n inwoner in dieselfde buurt gesê.

Die Witbank Operasie Koördineerder van SACCW, Maureen Scheepers het verder vertel dat,

“ons die hele area na die voorval gefynkamp het maar kon ongelukkig nie die twee verdagtes opspoor nie maar dit beteken nie ons gaan ophou soek vir hulle nie.”

Die slagoffer het die nodige mediese behandeling gekry op die toneel en is in die veilige hande van Legacy se personeel gelaat. Sy was nie beskikbaar vir kommentaar voor druktyd nie.

“As gemeenskap moet ons saamstaan en alles wat agterdogtig lyk onder mekaar bespreek en paraat wees wat om ons aangaan,” het Scheepers ten slotte gesê.

Inwoners van eMalahleni kan gerus inskakel op die SACCW se zello-kanaal op http://zello.com/SACCW.

LEES OOK:

Huilende vrou word verkrag

Vrou aangeval, gesleep en gebrand met sigaret

  AUTHOR
Chrisuné Vermeulen
JOURNALIST/PHOTOGRAPHER

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
The old lady is back