Wat is jou lewe werd?

’n Selfoon, ’n televisie of skootrekenaar? Oor die naweek is ’n egpaar koelbloedig doodgeskiet tydens ’n huisrooftog.

In dieselfde asem is almal opgewonde oor Ubuntu nadat ’n boer se selfoon deur taxibestuurders teruggevind is.

Hierdie twee voorvalle is wêrelde van mekaar geskei en tog het hulle een gemene faktor in gemeen, roof.
Elkeen van ons probeer sin maak uit die moord op Willy en Glenda Allison vroeg Sondagaand.

Terwyl almal rustig reggemaak het na ’n heerlike Sondagmaal en snoesig voor die televisie ontspan het, is ’n familie se wêreld uitmekaargeruk. Die rooftog het so om en by 19:00 plaasgevind.

As buitestanders huil ons saam, ons troos en ons volg elke aanlyn plasing oor die moord. Vir die familie is hierdie hartseer oorweldiging. Hulle het ’n ma en ’n pa, ouma en oupa, ’n broer en ’n suster, ’n vriend en vriendin verloor.

Is ons misdaadvoos of het misdaad tweede natuur geword?

Ek druk my ‘reset’ knoppie weg van woede en skok af en glimlag toe ek voor my geestesoog sien hoe ’n stoere boer van Trichardt se wêreld in ’n taxi klim en saamry.

Kosie van der Merwe se selfoon is gesteel en deur taxibestuurders teruggevind. Kosie het vertel dat hy soos Piet Retief voor Dingaan se oormag gevoel het toe hy die taxistaanplek instap.

Met ’n lag in sy stem het Kosie vertel dat hy video’s gemaak en foto’s geneem het van sy uitstappie in die taxi omdat geeneen van sy vriende hom ooit so glo as hy dit aan hulle vertel het nie.
Misdaad het nie kleur nie, dit het nie ’n ras nie ook nie ’n taal nie.

Misdaad is ’n koue, gevoellose, stemlose abstrakte handeling wat lewens verwoes, families in rou dompel en elke dag is daar nog ’n persoon wat ’n statistiek word.

Vir die meeste mense bly misdaad net ’n groot monster waarteen hul magteloos is. Hul uitgangspunt is as ‘jy nog nie deurgeloop het nie, dan moet jy jouself gelukkig ag’.

Die Engelsman vat so ’n slukkie van sy whiskey en ‘eish’ raak ’n teerpuntjie aan, “As iemand vermoor word raak ons betrokke by die gemeenskapspolisieringsforum vir so rukkie na die begrafnis verby is, dan twis ons onder mekaar en nie te lank nie of die hele aksie loop dood.

Dit los ’n saadjie om oor te dink, wat het van die rippels in ons GPF geword?

  AUTHOR
Zita Goldswain
Assistant Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Laat ons julle vertel