Wees ’n inspirasie

“Ek weet my lewe gaan kort wees, maar ek gaan ’n goeie lewe hê.”

As ons maar net kon weet wat die harde realiteit is, wanneer ons aan die einde van ons paadjie kom? Sou ons dinge dan anders in ons lewens hanteer? As joernalis kan ons nie kies en keur wie se lewensverhale in ons ink neergepen kan word nie. Ek glo dat daar ’n groter plan is daarom kruis ander se paaie met ons s’n.

My ontmoeting met ’n negejarige seuntjie was seker deel van die groot plan om my te herinner om elke dag as ’n Gods-geskenk te sien

Ek is die kans gegun om met Hein Vermaak te gesels oor die dood. Hy het ’n aggressiewe kanker en sy ouers, Yolande en Coenie is nie seker of hy twee maand of ’n jaar oorhet nie.

Ons het seker al almal, reg na die dood van iemand na aan ons, daardie eensame gevoel gekry wat oor ons spoel wanneer ons ’n kykie het op die einde van ’n lewe het. My persepsie van die dood en die hiernamaals verskil van joune. Niemand het die regte antwoord al ooit ingevul van wat met ons gaan gebeur as ons doodgaan nie. Skielik sit Hein voor my en gesels oor die dood asof dit die natuurlikste ding onder die son is. Hy wil op sy held, die aanlyn-resensent DanTDM gaan ‘spy’. Dan is hy seker hy kan in ‘games’ ingaan om uit te vind hoe dit werk. Hein se persepsie van die dood is ’n ‘adventure’. Myne is een van onbeantwoorde vrae, ’n onbekende onderwerp waaroor ek nie baie wil tob nie.

Die onderhoud het intussen vir homself ’n plekkie in my gedagtegang ingeneem en daar genestel. Onwillekeurig bly ek myself afvra, wat gebeur as ek doodgaan. Gaan ek slaap tot Jesus my kom haal? Wat van re-inkarnasie? Wat gaan gebeur as my siel nie tot rus kom nie?

Die Engelsman wat aan die ontvangkant vir vrae in die diep gesprek was het bietjie ‘eish’ by sy knertsie Whiskey gegooi en rustig vir my die volgende gesê.

“Als wat jy nog wil doen of kan doen met jou lewe begin vandag. Lewe so dat as jou ‘countdown clock’ tot ’n einde kom mense sal praat van die inspirasie wat jy was, iemand wat sy drome nagejaag het, en die meeste gemaak het van elke geleentheid.”

Ek los hierdie stukkie wysheid met julle en maak dit ook my motto.

  AUTHOR
Zita Goldswain
Assistant Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Hein se wenslysie