Kom ons red Emmawillielênie

Ek sit verlede week om die tafel saam met invloedryke besigheidsmanne en oor ’n pak biltong word idees heen en weer gegooi.

In plaas daarvan dat die Bokke bespreek word en die volgende jagtog beplan word, is daar ernstig besin oor Emmawillielênie se Eskom-skuld.

Die manne om die tafel is nie groentjies nie. Hulle het besighede wat jare al floreer in die stad, hulle is manne met ervaring en baie hoop vir hierdie stad van ons.

So in die gesels kom dit daarop neer dat Emmawillielênie se ondergang op die kwaliteit van bestuur geblameer kan word.

Hierdie munisipaliteit sit op die ganse wat goue eiers lê, myne, kragstasies en verwante besighede, maar in dieselfde asem is dit ook die weeskind van Mpumalanga.

Gee een treetjie terug en jy kan duidelik sien hoe al die ander munisipaliteite suigstokkies kry, maar dié een word opsetlik geïgnoreer. Nelspruit het die stadion gekry, asook die hooggeregshof en ’n universiteit. Op Middelburg is die Nkangala Distriksraad gesetel.

In Ferrobank maak een besigheid na die ander hul deure toe en die vooruitsig vir dié industriële been van die stad lyk baie sleg. Kleiner besighede swik onder finansiële druk. Op eie bodem het die prys eiendom met tussen 40% en 50% gedaal.

Een van die besigheidsmanne het vertel dat hy vyf jaar terug ’n aansoek ingedien het om te ontwikkel, en dié aansoek is nou onlangs vir die eerste keer gelees! Dit beteken dat behalwe dat die prys van bougereedskap in vyf jaar skerp gestyg het, werkloses ongeveer R200 000 in die tydperk kon verdien het.

As Eskom die elektrisiteit sny beteken dat dit nie net donker aande en ‘terrible hairdo-days’ nie. Dit beteken ons gaan nie water in ons krane gaan hê nie, alhoewel dit alreeds ’n alledaagse verskynsel is. Riool gaan in ons strate afstroom, skole, klinieke en hospitale gaan die effek die ergste voel. eMalahleni gaan op haar knieë gedwing word.
Iewers is daar hoop en dit vat ’n paar mense om ’n tafel, besig om ’n pakkie biltong te deel, om daardie sprankie hoop aan die gang te hou.

Daar is tans ’n veldtog aan die gang onder die naam Save-Emalahleni. Gaan koekeloer gerus op sosiale media en word deel van hierdie spanpoging om die ou Steenkoolstad se waardigheid terug te bring.

  AUTHOR
Zita Goldswain
Assistant Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Save Emalahleni