En hulle verdwaal Ga-Nala toe

As ’n versoek gerig word of ’n klagte gelê word, word daar altyd gesê, “Dit moet eers deur die kanale gaan.”
Wat hulle nie sê nie is dat hierdie kanale bleddie lank is. Somtyds strek hierdie kanale van Egipte tot by die Suidpunt van Afrika. Wat dit eintlik beteken is dat jy sal moet wag en wag en wag. Soms ure, soms dae, soms weke of selfs maande.

In my grootword dorp Ga-Nala, of soos ek dit ken, Kriel, is daar altyd ’n gewag as daar iets met die mislikepaliteit se dienste verkeerd gaan. Neem byvoorbeeld ’n kragonderbreking. Ga-Nala se personeel stel eers ondersoek in en rapporteer dan aan eMalahleni wat so halfuur se ry verder weg is, want dit is hoe die kanale kronkel.

Ure later daag eMalahleni se mislikepaliteit se bakkie in Ga-Nala op. Die probleem word weereens ondersoek en daar word op aksie besluit. Die bakkie jaag dan terug eMalahleni toe om toerusting te gaan haal. Ure later is die bakkie terug met die toerusting en ’n werkspan. Toe word daar ontdek dat die verkeerde toerusting gelaai is. Weereens terug eMalahleni toe om ure later terug te wees. Nou kan die probleem reggestel word.

Of, Ga-Nala inwoners kla oor slaggate en Ga-Nala personeel stel ondersoek in. Volgens prosedure moet daar deur die kanale gegaan word. Daarom kontak Ga-Nala se mislikepaliteit eMalahleni se mislikepaliteit wat belowe om aandag te gee. Dae later kom mislikepaliteit se bakkie in Ga-Nala aan. Die situasie word geëvalueer en na ’n bosberaad word ’n plan van aksie opgestel.

Die bakkie jaag terug eMalahleni toe. Dae later kom die bakkie terug Ga-Nala toe. Daar is sand, stampers en ’n groep werksmens. Sand word in gate gegooi en met stampers vasgestamp. Ek kul jou hier en siedaar, die gate is weg.
Twee dae later reën dit. Dit verg nie eers ’n kulkunsie nie en die gate is terug. In geval van ’n water lekkasie in Ga-Nala help dit nie eers om dit te rapporteer nie, want volgens die prosedure moet die kanale deur eMalahleni gaan. En eMalahleni kan nie eers hulle eie stad se waterlekkasies stop nie. Die water sypel al maande lank in onder andere Libertasstraat en Gordonstraat. So Ga-Nala se inwoners sal maar vir maande, indien nie jare nie moet sit en kyk hoe kosbare water wegvloei.

Miskien moet iemand deur die kanale ’n weg baan om dienslewering in die klein Hoëveldse dorpie Ga-Nala, selfs Ogies, Phola en Clewer op te kikker.

Skielik bulder die Engelsman se lag deur die huis en hy seg, “Is die moontlikheid al oorweeg dat iemand wel deur die kanale probeer ploeter het, maar in die proses verdwaal het?”

Hierdie is ’n tema vir ’n volgende gesprek wat die drie koördinate: lengtegrade, breedtegrade en geodetiese hoogte gaan insluit.

  AUTHOR
Zita Goldswain
Assistant Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Pas julle troeteldiere op