Kaalbas-vertonings en al

Ek en die Engelsman sit in die donker sitkamer. Nee, dit is nie omdat die kragreus Eksdom, nie krag verskaf nie.
Nee, ons sit in die donker om ekonomiese redes. Elektriese krag is nou so duur dat ons maar bespaar waar ons kan.
Dit is mos nie nodig om die elektriese ketel aan te skakel vir ander verversings nie.

Ek kyk verbaas na die Engelsman toe hy skielik “O dit is lekker in die army” begin sing. Miskien is dit lekker in die army, dink ek so by myselwers, maar dit is vir seker baie lekkerder om deesdae in die tronk te wees.

’n Paar dae terug het die koerante uitgebasuin oor hoe prisoniers in tronke vermaak word.
Kyk net hoe ’n prisonier deesdae bevoordeel word. Hy sit heeldag en niks doen nie. As hy voel hy wil iets doen kan hy gebruik maak van ’n ten volle toegeruste gimnasium. Dink maar net aan daardie een mannetjie van die Waterkloof vier wat uit die tronk gekom. En dit sonder om ‘n sent te betaal.

’n Prisonier kan heeldag sit en TV kyk. Hy hoef nie eers te wag tot sesuur wanneer hy van die werk af kom om sy gunsteling programme te kyk nie. En dit sonder om ’n sent te betaal. Hy is ook geregtig om ’n rekenaar in sy sel te hê. Hy kry drie etes per dag waarvoor hy nie ’n sent betaal nie. Ons belastingbetalers is die arme sotte wat daarvoor betaal.

As hy ambisieus is kan hy studeer. Alles word gedoen om hom met sy studies te help. En dit sonder om ’n sent te betaal. Weereens ons belastingbetalende sotte wat daarvoor moet opdok. As hy siek word, word hy in ’n hospitaal opgeneem. En nie sommer ’n staatshospitaal nie. Nee, meneer word in ’n privaat hospitaal opgeneem. En ons betaal.
En as hy dalkies net miskien ’n behoefte vir ‘papegaai slaai’ kry, dit is sommer daar in die tronk beskikbaar. Ek glo nie hy word daarvoor gesubsidieer nie. Ek vermoed hy moet self daarvoor opdok.

En deesdae word hy self op kaalbas dansvertonings getrakteer. Hy word self toegelaat om met die danseresse te dans. En daarvoor betaal hy ook niks. Raai wie betaal?

Dit is geen wonder sy verblyfplek word Sun City genoem nie. Een van die dae sal daar seker ook ‘n ‘one arm bandit’ dobbelmasjien in sy sel gesit word. Boonop hoef hy hom nie bekommer oor ’n hoë Eksdom rekening nie. Te hel met die army, ons gaan liewer tronk toe.

  AUTHOR
Zita Goldswain
Assistant Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Samaritaan aangeval