Af krag het sy voordele

Vanaand wil ek net dankie sê aan Emmawillielênie, want weereens is ons ligloos.

Maar, dit is op aande soos die dat ek en die Engelsman kan gesels, geen krieket op die kassie wat sy aandag kan aflei nie.

Met ’n drinkdingetjie in die hand, raak hy mos altyd wys.

“Ek dink ’n jok en ’n leuen is maar net eufemismes vir ‘lieg’”, seg hy.

In vandag se dae is alles ’n geliegery. Vat nou ’n hengelaar. Hy vang ’n vissie van ’n halwe kilogram en gaan vertel vir almal van die groot 10kg wat hy gevang het.

Jagters kan net so lieg. Tol vertel laas week vir die Engelsman dat die koedoe wat hy geskiet het, maklik ’n myl ver van hom af was toe hy hom geklits het.

Gister vertel klein Tolla vir my sy pa jok, daardie koedoe was minder as 200m van hom af toe sy pa hom geskiet het. Dis mos nie jok nie, dis pleinweg lieg.

Vat nou ons sportafrigters, veral dié op provinsiale en nasionale vlak, krieket en rugbyafrigters. As hulle spanne verloor word ’n liegrede daarvoor uitgedink, die spanne het uit hy nederlae geleer. Ek weet nie wat hulle geleer het nie, want ek het nog nooit gehoor van ’n sportman wat ’n graad of diploma vir rugby of krieket verwerf het nie.

Dan kry jy die mislikepaliteite. Net so voor die verkiesing word die publiek die maan en die sterre belowe. Maar die beloftes is alles ’n geliegery, want weke, maande selfs jare daarna is die strate nog nie behoorlik geteer nie, die slaggate baie meer én dieper, die water stroom uit die barse en gate in die waterstelsel en rommel lê die wêreld vol.

Dan lieg die amptenaar en sê daar is nie geld vir herstelwerk nie, maar daar is geld vir onbenullighede soos hofkostes om te baklei vir ’n R250-miljoen stuk grond en rente op die kragreus se rekening wat voorkom kon gewees het as die rekening betyds betaal is.

“Jy is reg”, val ek die Engelsman in die rede, “die krag sou volgens Emmawillielênie al 19:00 terug gewees het, en dis nou al 20:00.”

Ek draai die Engelsman se arm om my maar uit te vat vir ete.

Nota aan self: Dankie Mislikepaliteit, so ‘score’ ek vanaand ’n uiteet en ’n lekker geselsie in beseringstyd.

  AUTHOR
Zita Goldswain
Assistant Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
A real footsore